14/10/2026
Ontmoet die Span – Sr. Yolanda
1. Wat het jou geïnspireer om jou loopbaan in gesondheidsorg te begin?
Om mense te help, by te staan en te versorg, lê my na aan die hart. Ek fokus graag op mense se welstand en glo daarin om empaties en professioneel te wees en nooit moed op te gee nie. Om die ekstra myl vir mense te loop en hul herstel te sien, maak my werk besonders. Ek geniet elke oomblik van my beroepskeuse.
2. Wat is jou mooiste en lekkerste deel van jou werk by Patensie Renal Unit?
Dit is ’n nuwe hoofstuk in my lewe om met gevorderde masjiene te werk en elke pasiënt se toestand te monitor. Die eenheid voel soos my tweede huis, waar ons personeel en pasiënte ’n hegte familie geword het en mekaar al hoe beter leer ken. Dit is ’n baie vervullende werksomgewing.
Dit is vir my belangrik om ons pasiënte van die hoogste standaard van sorg te voorsien, elke dag op ’n positiewe noot saam te begin en met dankbaarheid af te sluit.
3. Hoe lyk jou ideale afdag – hoe ontspan jy ná ’n lang week?
Elke dag begin met gebed. Ek geniet familietyd en om tyd saam met my geliefdes deur te bring. Ek glo ook in “me-time”, sagte musiek en ’n rustige omgewing. Ek sluit graag die dag in stilte af met God se Woord, dankbaar dat ek nog gespaar is.
4. Wat is jou gunstelingplek om te besoek in die Gamtoosvallei of omgewing?
My werk, die vallei en die natuurskoon langs die Gamtoosrivier, waar ek die rustigheid en ontspanning geniet. St. Francisbaai, veral The Cove, is ook ’n gunstelingplek om te kuier en die lewe te geniet.
5. Het jy ’n stokperdjie waarvan min mense weet?
Ek geniet dit om te kook, bak en hekel, asook om konfyt te kook. Ek hou daarvan om tyd in my kombuis deur te bring en rustig ’n goeie boek te lees.
6. Watter drie woorde beskryf jou persoonlikheid die beste?
Sorgsaam, vriendelik en konstruktief.
7. As jy ’n superkrag kon hê, wat sou dit wees?
X-straal-oë!