27/10/2026
Ek gaan môre sirkus toe! 🎪
"Wanneer was jy laas by 'n sirkus?" vra my sus - en lag kliphard. Haar vriendin het haar saamgenooi sirkus toe en die kleinkinders gaan saam.
Wel, sê ek, my laaste herinnering is Vijoenskroon, ses jaar oud. Ek onthou die opwinding asof dit gister was: kaalvoet in die stofpad, staar na die massiewe wit tent wat opgeslaan word. Wilde diere in hokke. Super interessante mense, almal besig. En die sirkel van karavane waarin hierdie mense gebly het. Ek was in verwondering.
"Het jy ooit jou kinders sirkus toe gevat?" vra sy. Nee, sê ek, en krap hard in my brein se hardeskyf. Ek gaan hulle vra.
WhatsApp aan Charlotte: "Het ek julle ooit sirkus toe gevat?"
Binne sekondes die antwoord: "Nee, behalwe as ma familie-byeenkomste bedoel!"
Ek lê soos ek lag. Nie net omdat hierdie kind van my 'n ding reguit sê nie - maar oor die pure waarheid daarvan. Familiebyeenkomste. Die ander sirkus.
En dadelik dink ek aan Kersfees wat voorlê. Al die families wat gaan bymekaarkom: soms 'n lang tafel met oupas, oumas en kleinkinders. Soms 'n weervoorspelling - Oukersaand by Pa en sy nuwe girl, Kersdag by die skoonfamilie, Nuwejaar by Ma. Soms 'n groep vriende wat vrolik braai en heeltemal te veel drink. Soms perfekte tafels vol mense wat 364 dae van die jaar glad nie oor die weg kom nie. Soms 'n eensame verstoteling wat deur die familie uitgewerp is. Soms 'n eerstekeer-weduwee, 'n geskeide persoon, of daardie man of vrou wat nog nie hul deksel gekry het nie.
Kyk, ek sê altyd: in Desember kan ek nie 'n bestaan maak nie, almal gaan iewers Kersfees hou. Januarie is nog meer beroerd, almal gaan skool toe. Maar Februarie - as almal tot verhaal kom - dan onthou hulle die gruwels van die familiebyeenkomste.
Dan wil die pare wat al lankal geïrriteerd is met mekaar skielik skei, of huweliksberading hê. Die kos op die Kerstafel laat almal oor hul gewig en selfbeeld kla. Die rokers wil ophou rook, die laatkomers wil tydsbestuur leer, en die moedeloses wil hul gemoed regruk. Dan lyk my dagboek weer vrolik, en draai ek wye sirkels van blydskap dat ek weer kan werk. 😄
So, Desember se lang tafels is soms die grootste tent van almal: wilde wragtags, interessante mense, en geslagte onder een dak. En dan ook die toertjies!
As jy in Februarie so rondkyk vir iemand om mee te gesels oor jou eie sirkus - my dagboek lyk dan gelukkig weer vrolik. Bring sommer popcorn. 🍿🎪💛
ns. O ja - later onthou ek ook: ek het nie daarvan gehou dat majestueuse olifante toertjies moes doen, en dat leeus in hokke moes lewe nie. Verwondering en ongemak in een ervaring.